Academic journal article Literator: Journal of Literary Criticism, comparative linguistics and literary studies

Die Spook Van Afrikaneridentiteit in Toorberg, Die Stoetmeester En Die Swye Van Mario Salviati (Etienne Van Heerden)

Academic journal article Literator: Journal of Literary Criticism, comparative linguistics and literary studies

Die Spook Van Afrikaneridentiteit in Toorberg, Die Stoetmeester En Die Swye Van Mario Salviati (Etienne Van Heerden)

Article excerpt

Author(s): Mariette van Graan (corresponding author) [1]

Inleiding

Spookkarakters word tradisioneel gevind in verhale waarin 'n raaisel, soos die begraafplek van 'n skat of die identiteit van 'n moordenaar, opgelos moet word. Die drie romans van Etienne van Heerden wat in hierdie artikel bespreek word, bevat almal spookkarakters, 'n raaisel, en lewende karakters wat soek na die raaisel se oplossing. In Toorberg (1986) probeer Magistraat Abraham van der Ligt vasstel hoe en wanneer Noag du Pisani oorlede is; in Die stoetmeester (1993) vertel 'n vermoorde man die verhaal van sy laaste dae teen die agtergrond van 'n gemeenskap op die rand van siviele oorlog; in Die swye van Mario Salviati (2000) word Ingi Friedlander deur die dorpgeskiedenis van Tallejare meegesleur totdat sy saam met die Tallejaners die raaisel van die verlore Krugergoud probeer oplos. Spookkarakters kan buite tyd beweeg, hulle kan waarneem wat lewende karakters nie kan sien nie, en hulle kan hul kennis oor allerlei geheime openbaar. Juis hierom is spookkarakters in 'n posisie om raaisels vir die lewende karakters en die leser op te los.

In Etienne van Heerden se romans staan die spookkarakters vir die leser op die voorgrond omdat hulle fokaliseer, vertel en duidelik voor die leser se geestesoog kom staan met dieselfde werklikheidswaarde as die lewende karakters. Maar in die storie is die spookkarakters eintlik op die agtergrond omdat hulle in die roman feitlik geen interaksie met lewende karakters het nie, en ook geen direkte rol in die primere verhaallyn van die roman speel nie. Alhoewel die spookkarakters heelwat inligting aan die leser van die roman openbaar, doen hulle niks in die verhaal om die raaisels vir die lewende karakters op te los nie. Hierin le die suggestie dat Van Heerden se spookkarakters 'n ander funksie as die spookkarakters in die tradisionele spookstorie vervul.

Die spookkarakter is 'n verhaalelement wat hom leen tot veelvuldige interpretasiemoontlikhede. Spookkarakters is meer kompleks as wat algemeen aanvaar word en uiters aanpasbaar vir verskillende literere genres, insluitende die tradisionele spookstorie, die Gotiese en variante daarvan, die postkoloniale literatuur, die historiese roman en die magiese realisme (vgl. Gelder & Jacobs 1999:188, Anker 2003:230, Woodbridge, 2003:601, Wallace 2004:58, Marais 2005:117, Shear 2006:71-72, Cameron 2008:383, Gaylard 2008:16-17 en Van Graan 2015:57-74). Spookkarakters kan op verskeie maniere gebruik word om uiteenlopende perspektiewe op die geskiedenis, sosiale strukture, identiteite en persepsies van die werklikheid uit te beeld, en vandaar my ondersoek na die funksie van spookkarakters in Etienne van Heerden se romans: Toorberg, Die stoetmeester en Die swye van Mario Salviati. Gedetailleerde, indringende analises van elke spookkarakter en spookverskynsel in hierdie drie romans het aan die lig gebring dat die funksie van die spookkarakters verbonde is aan die identiteit wat deur elke spookkarakter vergestalt word (vgl. Van Graan 2015).

Identiteit is myns insiens 'n belangrike tematiese aspek van Van Heerden se oeuvre in geheel, en in die romans hier ter sprake, is Afrikaneridentiteit van kernbelang. Karakters se identiteit word onthul deur hul eie handelinge en vertellings, sowel as die persepsie van elk deur ander karakters en vertellers in die verhaal. Leidrade tot die identiteit van 'n spookkarakter kan derhalwe ook gevind word in hoe, waar en aan wie hierdie spookkarakter verskyn. Byvoorbeeld: Wanneer die spoke van die Moolmans op Toorberg, hul plaas en geboortegrond, dwaal en tob oor die water van die Oog wat opdroog, kan aanduidings van die Boere-Afrikaner se gehegtheid aan grond en water gevind word. Maar wanneer hierdie spookkarakters nie direk aan die lewende karakters verskyn of met hulle kommunikeer nie terwyl hulle eerder teenoor die leser kommentaar lewer, kan 'n afkeer in die lewende nageslagte bespeur word, wat aandui dat hulle nie voldoen aan die standaarde van hul voorgeslagte nie. …

Search by... Author
Show... All Results Primary Sources Peer-reviewed

Oops!

An unknown error has occurred. Please click the button below to reload the page. If the problem persists, please try again in a little while.